Adam span ‘n brug na Suid-Afrika

Brûe betower ons. Hulle verteenwoordig nuwe bestemmings, reuseuitdagings vir ingenieurs en verbind mense en plekke met mekaar. In 1899 het Herr Adam Opel, vervaardiger van trapfietse en naaldwerkmasjiene, dieselfde doel gehad toe hy die heel eerste Opel-motor gebou het. ’n Ingenieurs-uitdaging wat mense wêreldwyd verbind
het.

Opel Adam

Duiwelsbrug, Switserland. | Alle foto’s deur dnaphotographers.com vir InRat

Omdat Opel se besonderse klein luikrug, die Adam, ’n brug slaan na Suid-Afrika, het ons besluit om hom op ’n soektog te neem na van die mooiste brûe in Switserland, Frankryk en Duitsland. Natuurlik ook om te voel hoe hy ry.

Ons het by die Opel-fabriek in Rüsselsheim (naby Frankfurt am Main) in Duitsland weggespring en in ’n suidelike rigting gery. Ons was op pad na die Teufelsbrücke,

oftewel Duiwelsbrug, in Switserland. Dié brug oorspan die Reussrivier en verleen toegang tot die skouspelagtige St. Gotthard-pas.

Die eerste brug was van hout en is in 1230 gebou. Volgens legende was die konstruksie daarvan so moeilik dat die duiwel ingestem het om dit te bou. Sy voorwaarde was dat hy die siel van die eerste een wat die brug oorsteek sou ontvang. Toe die brug klaar was, het die mense ’n bok oor die brug gejaag. Byna 600 jaar later – in 1820 – is die houtbrug deur een van klip vervang. Omdat die verkeer oor die jare al hoe swaarder geword het, is ’n dubbellaanbrug in 1958 op die oue gebou.

Opel Adam

In die Franse Alpe

Die klein Adam was dol op die kronkels van Switserland se bergpasse. Die stuur reageer vinnig en daar’s puik balans in sy hantering.

Daarvandaan is ons regdeur Italië: deur tonnels en oor brûe totdat ons die skouspelagtige Pont du Gard in Frankryk bereik het. Dis ’n antieke waterleidingbrug uit die jaar 40 nC, wat oor die Gardonrivier strek. Die brug is deel van die Nîmes-waterleiding, ’n struktuur van 50 km lank wat deur die Romeine gebou is om water van ’n fontein by Uzès na die Romeinse kolonie by Nîmes te lei. Die Pont du Gard is die hoogste van aldie Romeinse waterleidingsbrûe en een van die bes bewaarde voorbeelde. Dit is op Unesco se lys van wêreld-erfenisgebiede.

Opel Adam

Die Pont du Gard, Frankryk

Van die antieke het ons Adam na die moderne geneem: die indrukwekkende Millau-oorbrug. Dit bestaan uit sewe spantorings wat die brug van 2,4 km aan kabels bo die vallei van die Tarnrivier laat hang. Die vallei se laagste punt is 270 m onder die padoppervlak en die hoogste spantoring is 343 m lank. Die Millau-brug is gebou om verkeersnagmerries op die pad van Parys na Spanje deur die Tarn-vallei die hoof te bied. Dis in Desember 2004 geopen en die koste was byna €400 miljoen.

Opel Adam

Millau-oorbrug, Frankryk

Teen dié tyd het ons byna 3 500 km in die Adam afgelê, maar steeds gemaklik gevoel. Die binneruim se gehalte is goed en die klankstelsel het maklik en gebruiksvriendelik
met ons slimfone geïntegreer. Liggies wat waarsku as daar ’n motor in die blindekol is, het ook handig te pas gekom.

Opel Adam

Gerief en gehalte kenmerk die Adam se binneruim.

Dit was tyd om na Duitsland terug te keer om die laaste van vele brûe te besoek. Dis nie so besonders soos die majestueuse brûe wat ons op ons reis teëgekom het nie, maar dis baie spesiaal vir my. Dis ’n bruggie in Harra*, die dorpie in Duitsland waar ek grootgeword het. Dit oorspan die Saalerivier en verbind Harra met die woud. Dis die brug wat ek al die meeste kere oorgesteek het.

Opel Adam

“Antonia-se-brug” by die dorpie Harra

Die Opel Adam is ’n wonderlike kar vir ’n road trip. Hy’s stewig en gerieflik teen hoë snelhede op die Autobahn en sy 1400cc-enjin (sonder turbo) se gemiddelde petrolverbruik was 15 km/liter (6,7 liter/100km). Maar dan is die Adam ook ’n lekker stadsmotor danksy sy grootte en maklike hantering.

Opel Adam

Met ‘n bietjie verbeelding lyk sy neus soos die Dodge Viper s’n.

Goeie nuus is dat die Adam vroeg volgende jaar Suid-Afrika toe kom. Kopers sal tussen drie luuksheidsvlakke kan kies en daar sal ’n omvangryke keuse van bakkleure, dakkleure, binneruimstyle en ander ontwerpselemente wees. Al dié keuses maak 61 000 stylkombinasies vir die buitekant en meer as 82 000 vir die binneruim moontlik.

Opel Adam

Die Adam se stilering en grootte wys dat hy met die Mini Cooper, Citroën DS3, Alfa Mito, Audi A1 en Fiat 500 sal meeding.

General Motors Suid-Afrika het nog nie die enjinkeuses bekend gemaak nie, maar dit sal glo die jongste tegnologie verteenwoordig, wat beteken daar sal turboenjins
wees. Opel beleef ’n opwindende renaissance en het in die eerste sewe maande van vanjaar ’n hele 52% meer motors in Suid-Afrika verkoop as verlede jaar. In die Adam se eerste jaar is 45 000 van dié motortjies in Europa verkoop. Die Adam is verlede jaar by die Johannesburg-motorskou gewys en die media en publiek het hom hartlik ontvang. Ons sien uit na sy koms. – Antonia Heil.

Opel Adam

Antonia en die Adam in die Alpe

*Harra is padlangs 155 km noord van Nürnberg en naby die grens met die Tsjeggiese Republiek. Antonia woon al vyf jaar in Suid-Afrika en is getroud met die fotograaf
Desmond Louw, wat die foto’s geneem het.

2 Comment responses

Leave a comment

css.php