Alfa MiTo QV Sport

Ek het my eerste Alfa Romeo in 1996 gekoop – ’n rondestert Duetto 1750 – gevolg deur nog vier ander modelle oor die volgende dekade. Benewens die herinnerings aan chroniese waterlekkasies en interessante elektriese probleme, is daar een gedagte wat altyd by my opduik as ek terugdink aan tye saam met dié Italiaanse hartebrekers: die kameraderie tussen eienaars van hierdie bekostigbare eksotika. Dit was geensins ongehoord om by ’n vulstasie of in ’n parkeergarage ’n geselsie met ’n mede-eienaar aan te knoop nie: soms om “oorlog-stories” uit te ruil, maar meestal net om hartstogtelik te vertel hoekom ons so geheg is aan ons motors. Want jy besit nie net ’n Alfa nie, jy het ’n verhouding met een.

 

alfa-mito-quadrifoglio-verde

 

Dis goed om te sien dat hierdie kameraderie nog bestaan, want in die tyd wat die MiTo QV Sport by my gekuier het, het ek kennis gemaak met talle ander Mito-bestuurders. Daar was egter een groot verandering: ons het saamgestem dat die MiTo ’n voortreflike motortjie is, maar nie een keer oor probleme gesels nie. Duidelik hoort die opvatting dat Alfa’s elke tweede dag breek, met onbeholpe handelaars wat telkemale alles nog verder opvoeter, tot die gryse verlede.

Dit is moeilik oor ’n Alfa Romeo te skryf sonder om meegevoer te raak deur emosie en cliché, want daar is min ander motors wat sulke sterk gevoelens aanwakker. Die feit is dat weinig ander vervaardigers motors met soveel karakter bou. Dit is die groot verskil tussen die Milanese en hul teenstanders. Is hierdie karakter iets waarmee ’n groeiende aantal kopers sal wil saamleef, of is dit steeds ’n aangeleerde smaak?

Hoewel die MiTo al sedert 2008 wêreldwyd beskikbaar is, was daar gereelde opgraderings. Die mees onlangse wysigings het geskied met die bekendstelling van die QV Sport-variant wat ons onder hande gehad het. Nuwe kenmerke sluit in: 18-duim-allooiwiele, outo-lugversorging links en regs, snelheidsbeheer en die Fiat-groep se Blue&Me Bluetooth-stelsel wat saam met die verbeterde nege-luidspreker-klankstelsel werk. Laasgenoemde se klankgehalte is steeds power, en die Blue&Me sisteem is geensins intuitief om mee te werk nie.

Die res van die binneruim is bekende MiTo-terrein, met sportsitplekke (met Alcantara-seemsleer en seil-bekleedsel) wat op die regte plekke vashou, aluminium-pedale en ’n driespeekstuurwiel met leer oorgetrek. Die voorpaneel gebruik steeds ’n bedekking wat lyk soos koolstofvesel, en daar is orals insetsels wat soos aluminium probeer lyk. Die materiaal-keuses blyk van goeie gehalte te wees, en als is deeglik vasgeskroef.

Met dit als in ag geneem, is die QV Sport, selfs teen ’n R20 000 premium bo die gewone QV, steeds ’n goeie proposisie, al is dit net om daardie pragtige allooiwiele (eksklusief aan die Sport-weergawe) en ekstra mooimaakgoed in die hande te kry. Die enjin is onveranderd gelaat, maar die vering is gekalibreer om die groter wiele volledig te benut.

Maar Alfa-Romeo se kernfilosofie is nie een wat hom met toerusting en speelgoed bemoei nie. Die klem is op bestuursgenot en estetika. Eers ’n woord oor die stilering. Die MiTo is, na vyf jaar op ons paaie, steeds polariserend. Ewe veel mense reageer positief as negatief op sy ontwerp. Die ooreenkoms met Alfa se skaars en peperduur 8C-sportmotor (2007-2010) is onbetwisbaar. Die effens verskrikte gesiggie met sy groot sierrooster is onmiskenbaar, en so ook die agterent met sy klein agterruit en ronde ligte. Miskien nie vir almal ewe mooi nie, maar beslis treffend in die marksegment vir boetiek-motors.

Boetiek-motors? Inderdaad – die MiTo se mededingers is rygoed soos die Citroën DS3 en MINI Cooper. Praktiese oorwegings speel tweede viool, terwyl eienskappe soos unieke stilering en die bestuurservaring voorkeur geniet. Dis hier waar die QV Sport behoorlik tot sy reg kom, want hy beloon met ’n glimlag van die eerste inklimslag, tot mens wegstap en onwillekeurig vir hom wil oogknip.

Elke oomblik agter die wiel is ’n emosionele ervaring, want hierdie Alfa laat drup karakter vanuit elke paneel. Alles dra by tot die sensasie: die1.4 MultiAir turbo-enjintjie het ’n parmantige grom en 125 kW, die sesspoed-handratkas het een van die beste skakelaksies wat ek nog ooit teegekom het, en die leerbeklede stuurwiel tree op as direkte verbinding tussen motor en mens. Daar is geen vaagheid om die ervaring te verdun nie, en die bestuurder voel byna telepaties by die motor ingeskakel. Alfa se DNA-skakelaar speel ’n groot rol hierin, want die A- (vir “All-Weather”) en N- (vir “Natural”) modusse demp die enjin se reaksie op die petrolpedaal, sit ekstra hulp op die kragstuur, en verander die ESP-stellings om vroeër in te tree. Dit is nie modusse wat mens by voorkeur kies nie, want die motor voel traag om te reageer. Veral in “A” is die motortjie vreeslik teruggetrokke – dis nou om veiligheid te verseker met al die sneeu op ons paaie, sien?

Alles verander egter wanneer jy die skakelaar boontoe druk en die D (“Dynamic”) modus kies, want dit ontsluit die MiTo QV se ware karakter. Die enjin reageer meteens direk op insette van die petrolpedaal, maksimum-turbodruk word vinniger opgewek, wringkrag skuif op na 250 Nm, en die stuuraksie kry meer gewig. Verder verslap die ESP sy greep op die onderstel, en die programmering van die Q2-ewenaarbeheer word meer aggressief. Die MiTo het nie ’n meganiese beperkteglip-ewenaar  nie, maar die Q2-stelsel simuleer dieselfde werking deur die voorwiele individueel te rem na gelang van die greep op die pad, stuurinsette en versnellerposisie.

In hierdie modus kan ’n mens laat waai, want die voorwiele klou soos  nete aan die pad, krag word van links na regs gestuur na gelang van die bande se greep, en die stert speel saam om die karretjie deur draaie te slinger. Akkuraat, moeitevry, verbysterend rats en vreugdevol: hantering is gewis steeds ’n Alfa Romeo -kenmerk. Die ritgerief is net so verbasend, ondanks 18-duim-bande. Die ingenieurs het beslis geweet wat hulle gedoen het met die MiTo QV Sport se suspensie- en stuuropstelling.

R304 900 is ’n wilde prys om te betaal vir so ’n klein motortjie, maar vergelyk tog  goed met die Audi A1 S-line, Citroën DS3 THP 155 en MINI Cooper S, veral met die Mito se diensplan vir ses jaar of 90 000 km en sy rits standaardkenmerke in ag geneem. Die Mito QV Sport is ’n genotvolle, karaktervolle karretjie, prakties danksy relatief baie binneruimte en ’n groot bagasiebak. Beslis ’n aanloklike keuse vir die bestuurder wat iets ongewoon soek, sonder om bruikbaarheid prys te gee.

Vir my was die grootste vreugde om te sien Alfa se kleurvolle karakter het net sterker geword. Ek sou baie graag ’n verhouding met hierdie enetjie wou aanknoop.
– Martin Pretorius, Junie 2013

 

2 Comment responses

  1. Avatar
    July 18, 2013

    Ek ry die Giulietta 1750TBi en scheme dis die gr8ste ryding. Alfa is bobaas. Kan net dink di klein QV Sport moet ongelooflik wees om te “ry”

  2. Avatar
    July 18, 2013

    Jy weet dit Jay!

Leave a comment

css.php