Aston Martin Rapide S

Soos sommige Hollywood-sterre hul middeljare betree sonder om hulle jeugdige voorkoms te verloor, is daar ’n handvol motors wat bykans ongemerk en met grasie verouder. Die Aston Martin Rapide is een van hulle. Omdat hy sedert 2010 vervaardig word, is hy in motorbedryf-terme al in sy middeljare. Om jeugdig te bly moes hy daarom, nes sy Hollywood-eweknieë, ’n bietjie hulp van die snydokters verkry.

Aston Martin Rapide profiel
Die chirurgie is so subtiel dat mens amper nie kan glo hy was onder die mes nie. Die meeste werk is onder sy vel gedoen om die bestuurservaring modern te hou. Daar is ’n herontwikkelde V12-enjin onder sy slanke kap – dis nog steeds ’n 5.9-liter eenheid, maar ontwikkel nou 60 kW meer as voorheen. Sy 410 kW sorg vir lewendige verrigting in ’n aluminiumbak-“koepee”, wat tog omtrent 200 kg swaarder is as ’n Jaguar XJR. Versnelling van nul tot 100 km/h duur 4.9 sekondes en ’n topspoed van 306 km/h is moontlik, volgens Aston Martin. Die sesgang koppelomsetter outo’kas wissel nie so vinnig ratte soos die nuwer agtgang eenhede nie, maar hy werk gladweg en hou die enjin daar waar dit saak maak in die toerestrek.

Aston Martin Rapide S

Die klankbaan is iets om te beleef, want sy uitlaatstelsel gebruik vleuelkleppe om die enjin se volle spektrum hoorbaar te maak: van ’n sagte gemurmureer teen lae toere tot ’n renmotor-agtige gil bo 5000 rpm. Die enjin se kraglewering verklap egter die Rapide S se ouderdom: waar moderne turbo-aangejaagde enjins ’n konstante stroom wringkrag regdeur hulle toerestrek lewer, moet die Rapide S styf opgewen word om sy ding met oortuiging te doen. Die noodsaaklikheid om hom te laat sing pas ten minste goed by die Rapide S se sportmotor-persoonlikheid.

Anders as wat verwag word, is die Rapide S nie ’n ware viersitplek luukse sedan nie – sy agtersitplekke is piepklein, en daar’s nie naastenby genoeg kajuitruimte om mee te ding met die Porsche Panamera of BMW Gran Coupé nie. Hy is eerder ’n vierdeur koepee met plek vir twee mense… en twee dwergies.

Rapide binne voor

Die kajuit is pragtig afgewerk, met die meeste moderne luukshede – alles van ’n tru-kamera tot navigasiestelsel is standaardtoerusting. Sy plooie is wel sigbaar deurdat hy nie ’n raakskerm-stelsel of ’n iDrive-agtige multifunksie draaiknop gebruik nie, maar op ’n magdom knoppies op die middelkonsole staatmaak om die verskillende funksies te beheer. Dit sal gewis ’n nuweling-bestuurder laat kopkrap.

Rapide binne agter

Hierdie kwelpunte vervaag egter wanneer die Rapide S aan sy nekvel gegryp en gery word. Danksy ’n nuwe stuurstelsel verander hy gretig van rigting, en met nuwe elektronies-beheerde dempers in sy veerstelsel is daar volop padgreep en ’n gemaklike ritgehalte. Dit is steeds moontlik om sy stert te laat verbyswaai, maar die beweging word goed deur die stabiliteitsbeheer in toom gehou. Amper enige bestuurder sal hom dus ten volle kan geniet.

Rapide met uitsig

Die Rapide S laat sy bestuurder voel soos ’n Britse geheime agent: pragtige stilering en ’n arrogante, effens oudmodiese persoonlikheid vorm sy aantrekkingskrag. Hy is miskien nie die maklikste motor om mee oor die weg te kom nie, maar wanneer mens voor sy sjarme swig, kan niks anders werklik met hom vergelyk word nie. Sy dae is ongelukkig getel: daar is ’n verhouding met Mercedes-Benz AMG op die horison om vir Aston Martin moderne enjins, ratkaste en elektroniese stelsels te verskaf. Dit sal baie jammer wees as sy unieke Britse karakter onder ’n dik Duitse kombers versmoor word.  – Martin Pretorius

Prys
sowat R3 miljoen

Enjin
5 935 cc met 12 silinders (V); petrol

Ratkas
Sesgang koppelomsetter-outomaties; agterwielaandrywing

Krag
410 kW @ 6 750 o/min. en 630 Nm @ 5 500 o/min.

Verrigting
0-100 km/h in 4.9 sek. en 306 km/h topsnelheid

Verbruik
14.87 ℓ/100 km en 355 g koolsuurgas per km (gemiddeld, volgens Aston Martin)

Brandstoftenk
90.5 ℓ

Bagasiebak
317 ℓ

Naverkope
Waarborg en onderhoudsplan vir drie jaar, onbeperkte afstand.

Oorweeg ook
Porsche Panamera Turbo S, BMW M6 Gran Coupé

No comments yet.

No one have left a comment for this post yet!

Leave a comment

css.php