AUDI SQ5

Ek gesels onlangs met ’n sportagent oor hoe rugbyspelers en die spel die afgelope halfeeu verander het. Neem die legendariese Frik du Preez, wat tussen 1961 en 1971 vir die Springbokke op flank uitgedraf het, as voorbeeld. Teen 1.89m en 106kg was Oom Frik ’n uitstekende all rounder wat later selfs slot gespeel het. Vergelyk dit met ons 2.02m Bok-slot Bakkies Botha wat die skaal eers op 125kg tot stilstand bring. Selfs ons Bok-agterspelers Jean de Villiers (1.90m en 103kg) en Francois Steyn (1.91m en 110kg) is omtrent so groot soos Oom Frik.

Glo dit of nie, maar dieselfde verskynsel is in die motorbedryf te sien. Die voorspelers van die motorwêreld, die “SUV’s”, word al groter en vinniger. Kyk byvoorbeeld na die Mercedes-Benz se ML 63 AMG, Porsche se Cayenne Turbo en die BMW X5 M.

Maar hoë verrigting en ’n hoë swaartepunt is twee begrippe wat nie in dieselfde sin genoem moet word nie. Verder is hierdie sportiewe agterspeler-“SUV’s” nie juis tuis in die bos nie en hulle kan ook nie as volwaardige sportmotors geklassifiseer word nie. Ek verstaan dus nie waarom vervaardigers miljoene bestee om hierdie modelle uit te rol nie.

Audi SQ5

Nietemin het Audi onlangs tot hierdie stryd toegetree. Hy het die drieliter-V6-dieseloond – die een met twee turbo’s – uit die A7 gelig en dit in die Q5 se neus laat sak. Die SQ5 is die eerste diesel-Audi wat die S-baadjie dra.

Audi het onlangs in die Le Mans 24 uur-uithouren weereens bewys hy wéét hoe om dieselenjins te bou toe hy met die eerste en tweede plekke in die LMP1 klas – die belangrikste een – weggery het. Die SQ5 se enjin SQ5 skop ’n allemintige 230 kW en 650 Nm na al vier wiele uit, wat hierdie lorrie in net 5,1 sekondes van 0-100 km/h laat hardloop! Dit is vinnig genoeg om ’n hele spul sportmotorbestuurders rooi in die gesig te laat, sou hulle die SQ5 onderskat.

Audi SQ5

Hierdie hoë verrigting het Audi genoodsaak om die SQ5 30mm laer te laat ry as sy gewone, oninspirerende Q5-broer. Die motor se hantering het nogal beïndruk met hoe plat hy deur draaie gaan. Hy het glad nie oorgeleun waneer die pad begin kronkel nie. ’n Agspoed tiptronic ratkas verseker dat die Audi ’n verbruiksyfer van net 6.8 liter/100km in die gekombineerde siklus het. Kort nadat jy weggetrek het, loop die Audi reeds in vyfde rat. My regtervoet was egter hopeloos te lief vir die SQ5 se versnelling om naby hierdie syfer te kom. En dit is juis hierdie versnelling wat die SQ5 se tour de force is. Danksy die hoë wringkrag (650 Nm) is die enjin en ratkas teen enige snelheid gereed om jou na die horison te gooi. Binnelangs is die SQ5, tipies Audi, baie mooi afgewerk en goed aanmekaar gesit. Afgesien van die stuurwiel se plat onderkant, is daar ander subtiele elemente wat die sportiewe natuur van die SQ5 verklap. Die vier uitlaatpype, silver kantspieëls, S-kentekens en groter wiele is die enigste uitstaande kenmerke wat die SQ5 van sy gewone Q5 stalmaats differensieer.

Audi SQ5

Die blote feit dat hierdie blitsvinnige “SUV’s” bestaan, beteken dat daar oorgenoeg kopers vir hulle is. Die Audi SQ5 is ’n goeie pakket vir ‘n stadsjap(p)ie (met ’n jeukerige regtervoet) wat ’n voertuig met ‘n hoër bestuursposisie soek. Tyd sal egter leer of die Audi by die nuwe Porsche Macan kan kers vashou. Kopers wat oor die R800 000 vir die SQ5 kan betaal, kan moontlik ook bekostig om effe meer uit te haal vir die Porsche sleutelhouer. – Pieter-Jozua Erasmus

AudiSQ5-14

Prys
R823 000

Enjin
3-liter sessilinder-diesel (V6) met twee turbo’s

Ratkas
Agspoed dubbelkoppelaar-outo met Quattro-vierwielaandrywing

Krag
230 kW @ 3 900 – 4 500 r/min en 650 Nm @ 1 450 – 2 800 r/min

Verrigting
0-100 km/h in 5.1 sekondes; topsnelheid beperk tot 250 km/h

Verbruik
6.8 liter/100km (volgens Audi)

Brandstoftenk
75 ℓ

Bagasiebak
540 ℓ

Naverkope
Waarborg vir een jaar of 100 000 km en onderhoudsplan vir vyf jaar.

Oorweeg ook
Mercedes-Benz GLA 45 AMG en die Porsche Macan S.

 

No comments yet.

No one have left a comment for this post yet!

Leave a comment

css.php