Elantra subtiel vernuwe

Nuut ontwerpte hoof- en misligte, ’n nuwe sierrooster, herontwerpte buffers voor en agter, veranderde agterligte, blink afwerking om die ruite en groter wiele. Kortliks is dít die buite-veranderinge wat aangebring is om Hyundai se gewilde Elantra te vernuwe.

elantra_red_front_01

Volgens die vervaardiger is dié opkikkerings juis redelik bedees sodat dit nie die herverkoopwaarde van die huidige Elantra, wat in 2012 aangewys is as Amerika én Suid-Afrika se motor van die jaar, te veel beïnvloed nie. Sy effens veranderde sierrooster met misligte, asook LED- en projektor-tipe hoofligte, laat die Elantra se vooraansig dinamieser en moderner vertoon, terwyl herontwerpte 17-duim-tweekleurallooiwiele en ’n chroom-omboorsel sy kantlyne beklemtoon. Die nuwe agterbuffer met swart insetsel en LED-agterligte balanseer sy agteraansig goed met sy voorkant.

Dit is darem nie al nie: Ook binne is subtiele veranderinge aangebring om bruikbaarheid te verbeter. Dit sluit in die hoër plasing van die ventilasiegate (wat nou ook heeltemal kan sluit) en die sentrale armrus, ’n herontwerpte lugversorgingsbeheerpaneel met ’n donker agtergrond en ’n nuwe klankstelsel met geïntegreerde Bluetooth- verbinding. Elektriese, wegvoubare kantspieëls en leerbedekking vir die ratkierie is ook bygevoeg.

Elantra binne
Op die kort Wes-Kaapse toetsroete was dit ook duidelik die geraas- en vibrasievlakke in die nuutste Elantra is verlaag met beter klankdempingsmate- riale, asook ’n volledige onderstelbedekking. Net twee weergawes, albei aangedryf deur Hyundai se Gamma 1.6 CVVT-enjin (96 kW, 157 Nm) gekoppel aan óf ’n sesgang- handratkas óf ’n Shiftronic-sesgangouto, is nou beskikbaar, wyl die 1,8-liters heeltemal laat vaar is. Hoewel daar niks verder aan die veerstelsel met sy MacPherson-stutte en wringstaaf-as gepeuter is nie, het die nuutste Elantra steeds voortreflike padgedrag met goeie ritgehalte, selfs op slegte paaie. Sy elektriese stuurstelsel is nog halfgevoelloos, maar dit voel wel effens skerper met die indraaislag.

Dié vernuwings sorg dat die Elantra in pas bly met sy mededingers. Sy aantreklike stilering, goeie toerustingvlak, yslike bagasieruim (485 liter), stewige waarborg (5 jaar/ 150 000 km) en versienplan (5 jaar/ 90 000 km), asook mededingende pryse, sal van hom ’n kopersgunsteling in die C-sedansegment maak. – Ferdi de Vos

elantra_red_rear_02

PRYSE
Elantra 1.6 Premium (handrat) R247 900 Elantra 1.6 Premium (outo) R262 900

No comments yet.

No one have left a comment for this post yet!

Leave a comment

css.php