Harley-Davidson Softail Slim

As Maserati’s en Lamborghini’s oorskuif na die geel lyn sodat jy hulle kan verbysteek, dan ry jy iets spesiaal. En die Harley-Davidson Softail Slim is werklik ’n spesiale motorfiets.

Uit die staanspoor moet ek erken: ek is nie ’n Harley-Davidson-aanhanger nie. Dit het niks met die motorfietse te doen nie. Harley’s is goeie motorfietse met koeëlbestande enjins en top werkmanskap. Die probleem is dat as ek ’n motorfiets ry, dan ry ek hom. Ja, ’n bietjie van ’n hooligan. Verbeel jou Noriyuki Haga agter die stuur van ’n bus. En jy kan nie ’n hooligan op ’n Harley wees nie. In dieselfde asem maak dit van dié motorfiets ietwat van ’n oksimoron. Ek sal verduidelik.

My eerste vyf minute op Oxy (Ja, ek het hom ’n naam gegee) was letterlik om te keer dat ek nie omval nie en om te weet waar alles sit en hoe dinge werk. Ek trek by Harley se hoofkantoor in Kaapstad weg en kies die pad terug stad toe. Alles verloop goed. Maak die versneller geleidelik oop, werk mooi met die koppelaar, bly tussen die lyne… en toe besluit ek om ’n rat af te skop en ’n BMW verby te steek.

softail slim

Die versnelling is, wel, brutaal. Die hooligan skop in. En daar sit jou probleem. Soos Jeremy Clarkson sê: “Amerikaanse voertuie is nie gemaak vir draaie nie”. En dis ’n feit. Harleys is vir luigat rondry. Lang, geleidelike draaie is geen probeem nie, maar De Waal-weg se kurwes het my gou tot die werklikheid teruggeskop.

’n Klomp kere het ek my amper lelik vasgeloop met tweede- en derderat-draaie. Jy moet jou draaie beplan. Toe ek ’n paar keer vergeet het daarvan is ek baie gou herinner aan die woorde van H-D se bestuurder: die voetstukke sál op die grond skuur. En ja, ek het die voetstukke behoorlik getoets. Dis nogal ’n onaardige gevoel om jy voel daardie skuurklanke deur jou voete. ’n Rilling skiet met jou ruggraat af en jou sitvlak vreet aan die sitplek.

Dié soort krag is nie vir beginners nie. Draai die krane te wyd oop in eerste vanaf ’n staande posisie en 310 kg van Milwaukee se swaarste en beste treinspoorstawe gaan letterlik onder jou sitvlak uitspring. Wees gewaarsku. Eerste rat is soos ’n harde, nat klap in die gesig en is binne ’n oogwink verby, mits jy dit reg doen. Tweede tot vierde gaan die trane laat loop. Jy moet vashou. Maar dêmmit, dis lekker. Nog meer asseblief, ou boeta. Elke dag was dit dieselfde storie. Ek begin rustig en beskaaf, met sagte versnelling, maar daardie wringkrag-duiwel wat heeltyd krap, ooo…

softail slim

Maar soos in enige verhouding is daar knelpunte. Sommer met die intrapslag het die Harley-Davidson-wapen op die tenk my denim begin vreet. In alle eerlikheid: ’n gewone plakker sou beter gewerk het.

Soos voorheen genoem, is skerp draaie ietwat van ’n probleem en jy vind jouself baie vinnig teen die skouer van die pad as jy net effens haastig is. Dan is daar die enkelsitplek. Toe ek op Facebook laat weet waarmee ek vir die week gaan rondry, het die boodskappe van potensiële vroulike passasiers ingevloei soos die Oranjerivier in ’n goeie reënseisoen. Met groot spyt moes ek nee sê: dis ’n one-man-show.

Na ’n uur in die saal sal van jou spiere skree. Ek kan myself nie op ’n lang rit met hierdie fiets voorstel nie. Wat daarmee gepaard gaan is die wind-weerstand. Daar is nie ’n windskerm nie en enige spoed bo 100 km/h gaan jou arms, bene en boude hard laat werk om vas te hou. Een aand het ek skelmpies, met ’n breë glimlag en al my krag natuurlik, vir Oxy gedruk tot ver bo die spoedgrens en dit was, om die minste te sê, skrikwekkend. Die probleem is dat jy in een posisie sit en jouself nie kan verskuif om aan te pas by die windweerstand nie. Maar by nadenke moet onthou word dat hierdie ’n cruiser is. ’n Cruiser wat dink hy’s ’n renfiets: ’n Os met ’n vuurpyl op sy rug.

Die dag toe ons moet afskeid neem, belowe ek en Oxy mekaar dat ons dit rustig gaan vat. Ons gaan cruise soos wetsgetroue burgers. En dit gaan goed. Halfpad op pad na Harley se kantore gee ek hom so ’n klap op die tenk en sê: “Jy is ’n bleddie goeie bike; ek hou baie van jou”. En toe fluister Oxy terug: “Komaan, maak oop. Nog net ’n laaste keer…”.

Glanspunte
Uitstekende bougehalte, brutale krag en versnelling, gemak teen lae spoed, sluitweerremstelsel, aantrekkingskrag

Wat pla?
Ongemak teen hoë snelheid, hantering in stadige draaie

Stephan Lourens

softail slim

Prys  R220 950

Enjin  1688cc, lugverkoel, dubbel-V, twee kleppe per silinder, brandstofinspuiting

Ratkas  Sesgang, bandaandrywing

Krag  132 Nm @ 3 250 r/min, kW onbekend

Petroltenk  19 ℓ

Gewig  305 kg

Sitplekhoogte  650mm

Naverkope  Tweejaarwaarborg ongeag van afstand. Versien elke 8 000 km (eerste diens op 1 600 km)

Oorweeg ook  Victory Judge

No comments yet.

No one have left a comment for this post yet!

Leave a comment

css.php