Mercedes-Benz CLS 63 AMG Shooting Brake

Stel jou die volgende voor: Jy’s ’n skatryk sportmotor-entoesias. Jy het twee kinders en ’n vrou met meer skoene as breinselle. Sy weet nie hoe om lig te reis nie en die kinders ook nie. ’n Tweesitplek-Mercedes SL is op jou wenslys, maar jy wil naweke saam met jou gesin kerjakker. Hoe nou?

Jy kan jou Naspers-aandele dank dat Mercedes-Benz die oplossing het in die vorm van die CLS 63 AMG Shooting Brake* teen R1 380 000. Want hy het ’n sportmotor se vaart en eksklusiwiteit, maar is eintlik is ’n luukse, kwaadgemaakte stasiewa.

CLS 63 AMG Shooting Brake skuins van voor
Toe ek die Shooting Brake by Century City in die Kaap vir ’n toetsrit gaan haal het, het al die knoppies en liggies in die binneruim my aanvanklik dronkgeslaan. Die hoof van die AMG-afdeling was gelukkig daar om enkele van die funksies te verduidelik. Maar niks het my voorberei op die diep, brulgeluid van die 5.5 liter V8 toe ek die aansitknop druk nie! Dit klink so mooi dat ek met oop vensters wou rondry. Dis natuurlik nie oral aan te beveel nie, veral wanneer die navigasiestelsel jou deur die wilde dele van die Kaapse Vlakte lei.

Die “Helderwit Diamant” (R18 700 net vir dié verf!) Shooting Brake het die mense laat staar (en kwyl) sover ons gegaan het. Ek het hom een oggend voor ’n koffiewinkel by die Gateway-sentrum in Hermanus parkeer en met my skootrekenaar gaan werk, met ’n goeie uitsig op die motor. Mense het langsaan die Benz parkeer, uitgeklim en by die vensters ingeloer. Toe ek wou ry, het een of twee gevra dat ek hom asseblief moet “start” en hulle het by die uitlaatpype gaan staan om die klank te waardeer. En hoewel die woord “lykswa” op ’n keer gebruik is, was die meeste siele in vervoering oor die Shooting Brake AMG.

CLS 63 AMG Shooting Brake met deure oop

Ek het ook so gevoel, maar die V8 se tamaai kraguitset van 386 kW en 700 Nm het my tegelyk tot raserny frustreer. Want om dié monster beheers en bedees te ry, is soos om ’n nuwe stel gholfstokke op ’n minigholf-baan te gebruik. Ek het darem vieruur een oggend die kans gekry om voet neer te sit lughawe toe, op ’n verlate N2.
 
Jy kan kies in watter ratkas- en veringmodus jy wil bestuur: As jy die ratkas se spesiale beheerknop draai tot by Sport Plus moet jy jouself voorberei: een nies of kuggie terwyl jou voet op die petrolpedaal is en jy word vorentoe geslinger teen die spoed van wit lig. Rondom skerp draaie het die Shooting Brake AMG se lang agterstewe mooi gelyk gebly met die res, ongeag die veringverstelling. Maar as jy verkies dat sy stert af en toe swaai, kan jy die ESP (elektroniese stabiliteitsprogram) afskakel. Ek sou dit nie aanraai nie, behalwe as jy ren-ondervinding het.

As jy rustig ry en brandstof wil bespaar, draai die knop tot by C (vir Controlled Efficiency) en sit die snelheidsbeheer aan. Dit maak die motor nie lui nie, net ligter op brandstof. Die enjin skakel homself af wanneer die motor stilstaan, om brandstof te bespaar. Wanneer die bestuurder die rempedaal los, vat hy weer. Die pluspunt hiervan is dat ’n mens die enjin by elke rooi verkeerslig hoor brul! Hoewel ’n mens mag dink dié AMG verslind olievate, het die ritrekenaar 11.8 l/100km aangedui nadat ek die sowat 160 km van Kaapstad na Hermanus teen 120 km/h gery het. As die rekenaar reg is, is dit merkwaardig met die enjin se grootte en krag in ag geneem.

CLS 63 AMG Shooting Brake profiel/agter

Die Shooting Brake waarmee ek gery het, het heelwat opsionele ekstras gehad, soos die Driver Assistance Plus-pakket van R17 200. Dit bestaan uit Lane Keeping Assist, Blind Spot Assist en Distronic Adaptive Cruise Control. Laasgenoemde hou ’n veilige volgafstand met die voertuig voor jou en sal vanself rem of versnel indien nodig. Die Shooting Brake was ook toegerus met Night View Assist Plus (R19 450). Dit behels ’n infrarooikamera wat sorg dat die pad voor jou op die skerm in die middelkonsole vertoon word. Op dié swart-en-wit beeld is die pad helder verlig. Ek’s nagblind en daarom was dit my redding toe ek in stikdonkerte moes ry.

As jy sug van moedeloosheid omdat sulke toerusting bo jou vuurmaakplek is, oorweeg die Honda Accord Exclusive Tourer (‘n gebruikte een vir omtrent R300 000). Dis die middelklas se Shooting Brake met baie van dieselfde tegnologie, waarvan alles standaardtoerusting is. Hy het ongelukkig nie nagsig nie, maar kan die kurwes van die pad vanself volg as jy vir ’n paar sekondes agter die stuur sou insluimer. Die goeie nuus is dat die slimmighede wat ons aanvanklik net in duur karre kry tog later hul weg na intreevlak-motors vind.

Die Mercedes-Benz CLS 63 AMG Shooting Brake is ’n belewenis om te bestuur, maar hy is gemik op ’n nismark en ek wonder hoe goed hierdie plesierwa in Suid-Afrika gaan verkoop. Een ding is seker: die genot wat hy jou verskaf is amper sonde.  – Ané Theron

CLS 63 AMG with Ané Theron

Prys
R1 382 600

Enjin
5 461cc met agt silinders (V) en turboaanjaer; petrol

Ratkas
Sewegang-outomaties; agterwielaandrywing

Krag
386 kW @ 5250-5750 o/min. en 700 Nm @ 2000-4500 o/min.

Verrigting
0-100 km/h in 4.4 s en 250 km/h (beperk) topsnelheid

Verbruik
10.1 ℓ/100 km en 235 g koolsuurgas per km (gemiddeld, volgens Mercedes-Benz)

Brandstoftenk
66 ℓ

Bagasiebak
590 ℓ

Naverkope
Waarborg en onderhoudsplan vir ses jaar of 100 000 km. Versien elke 15 000 km

Oorweeg ook


Porsche Cayenne Turbo; BMW X5M

* Die naam “shooting brake” kan vertaal word as “jagwa”, wat eintlik ‘n luukse stasiewa is. Sien http://en.wikipedia.org/wiki/Shooting-brake

No comments yet.

No one have left a comment for this post yet!

Leave a comment

css.php