Mirage is lig op petrol en jou beursie

Lae brandstofverbruik en ’n lae koopprys is waarskynlik die twee eienskappe waarna die meeste kopers van nuwe motors heel eerste soek.
Mitsubishi Mirage
Die nuwe Mirage van Mitsubishi bied dit, asook bekostigbare finansiering, twee gratis versienings en gratis versekering vir die eerste jaar.

Moet egter nie die verrigting van ’n Mirage-vegvliegtuig verwag nie. Dis nie ’n vinnige karretjie nie, maar omdat hy so min weeg, is die 57 kW en 100 Nm van sy 1,2-liter-driesilinder-petrolstofie genoeg om rats deur verkeer te sny, mits die ratkierie geroei word.

Buite die stad hyg hy weens ’n effense gebrek aan wringkrag. Die Mirage roem hom egter nie op kraglewering nie, maar op doeltreffendheid. Met reg, want teen sy amptelike gemiddelde petrolverbruik van 4,9 liter per 100 km sal een tenk brandstof (35 liter) jou 700 km ver neem.
Mitsubishi MirageDaar is dubbele lugsakke, lugversorging, elektriese vensters en kragstuur in alle variante. Die duurder GLX het onder meer ook allooiwiele en ’n USB-poort vir musiek. Dit word alles toegedraai in ’n helderkleurige pakkie met ’n gesiggie wat vir jou ogies maak. Die GLS het boonop sleutellose toegang, outomatiese lugversorging en elektriese agterruite.

As ’n eerste of stadsmotortjie het die Mitsubishi Mirage baie sin. Dis ’n waardige mededinger vir die Suzuki Swift 1.2. – Martin Pretorius.
mitsubishi_mirage_3
PRYSE

Mirage GL – R124 900
Mirage GLX – R134 900
Mirage GLS – R144 900

No comments yet.

No one have left a comment for this post yet!

Leave a comment

css.php