Mitsubishi Pajero Sport 4×2

“’n Mens moenie dié motor ry as jy moeg of vaak is nie. Hy bestuur so maklik dat jy aan die slaap sal raak . . .” Aan die woord (en stuur) is my pel Werner na afloop van ’n week lange toervakansie deur die suide van KwaZulu-Natal. Vir baie motors – die soort wat hulle roem op bestuursgenot – is so ’n uitspraak ’n doodsvonnis. Maar vir die Mitsubishi Pajero Sport beteken dit hy het sy taak byna foutloos verrig.

’n Sportnutsvoertuig is mos veronderstel om mense, hul pakkasies en padkos na die verste hoeke van die land te kan neem, ongeag die pad- of weerstoestande. Die Pajero Sport 4×2 het hom meesterlik van dié taak gekwyt. Hy het stranduitstappies en inkopietogte ewe maklik gemaak en lang paaie met gerief vir sy mensevrag kafgedraf.

Mitsubishi Pajero Sport

Hy het ook, selfs sonder ’n viertrekstelsel of ewenaarslot, doodluiters teen die Sani-pas uitgekruie toe die bevlieging ons pak om iets te gaan eet by die hoogste kuierplek in Afrika, die Sani Mountain Lodge. Sulke veelsydigheid verdien meer as net ’n goedkeurende kopknik. Terloops, die Sani-pas is nie enige ryding se speelplek nie, want sonder die regte voertuig is dit maklik om van die pad te gly en honderde meters ondertoe in ’n opgerolde bondeltjie yster te eindig. Selfs met die Pajero Sport 4×2 se goeie bergklimvermoë sal ek daardie pas nie in die winter, wanneer die pad toegesneeu en met ys bedek is, aandurf nie. Dit is waarvoor die 4×4 Pajero Sport daar is.

Mitsubishi Pajero Sport

Suid-Afrikaners is lief vir bakkie-gegronde sportnutswaens, soos die Toyota Fortuner se volgehoue sukses bewys. Danksy ekstra penshoogte kan hulle bergpaaie en spoedhobbels ewe gemaklik hanteer. Daardie groot bande wat lekker oor klippe kan klouter is net so nuttig om slaggate die hoof te bied en hul kajuite is amper net so luuks soos noudiedag se luukse sedans. Mitsubishi is die agteros in hierdie kraal, want die Pajero Sport was tot onlangs toe net as ’n viertrekker beskikbaar – terwyl sy mededingers se agterwielaandrywing-variante vir omtrent 75% van hierdie marksegment se verkope verantwoordelik was.

Mitsubishi Pajero Sport

Die nuwe 4×2-variant vul hierdie gaping in die Pajero Sport-modelreeks en behoort ’n groot gevolg te kry. Sy verkoopprys is nie net billik nie, maar sy toerustinglys is propvol. Daar is goed soos ’n raakskerm-klankstelsel met Bluetooth-, USB- en iPod-versoenbaarheid, tru-kamera, parkeersensors, sewe gemaklike leerbeklede sitplekke met lugversorging vir die agterste rye, ses lugsakke en stabiliteitsbeheer. Hy spog dus met beter toerusting as sy teenstanders.

Mitsubishi Pajero Sport

Daar is wel drie knelpunte, waarvan twee betrekking het op stadsgebruik. Die eerste is dat sy 2,5 liter-turbodiesel bevredigende verrigting lewer wanneer hy aan die beweeg is, maar sukkel met erge turbo-traagheid, en die vyfgang-outo’kas beklemtoon dit verder. Dit beteken dat hy nie vinnig by ’n kruising sal kan wegspring nie. Voorts is hy dors in stadsverkeer: ons toer het ’n aanvaarbare verbruiksyfer van 9,6 liter/100km gelewer, met omtrent 9 liter/100km op die snelweg. In die stad spring daardie syfer egter maklik na 12 liter/100km. Dit kan miskien nie sleg afsteek by die ander in sy klas nie, maar is steeds gulsig vir so ’n moderne enjin. Derdens sou ’n opsionele ewenaarslot handig te pas gekom het.

Mitsubishi Pajero Sport

As ’n gesinsvoertuig wat amper enige plek kan uitkom, is die Pajero Sport 4×2 egter heeltemal suksesvol. Die agterwielgedrewe Fortuner 2.5 VGT moet ligloop, want hy het oplaas ernstige mededinging. – Martin Pretorius

Prys
R420 000

Enjin
2 477 cc met vier silinders (reguit); turbo-diesel

Ratkas
Vyfgang koppelomsetter-outomaties; agterwielaandrywing

Krag
131 kW @ 4 000 o/min. en 350 Nm @ 1 800 – 3 500 o/min.

Verrigting
0-100 km/h in 12 sek. en 176 km/h topsnelheid

Verbruik
8.5 ℓ/100 km en 225 g koolsuurgas per km (gemiddeld, volgens Mitsubishi)

Brandstoftenk
70 ℓ

Bagasiebak
1 149 ℓ

Naverkope
Waarborg vir drie jaar of 100 000 km en diensplan vir vyf jaar of 90 000 km. Versien elke 10 000 km

Oorweeg ook

Toyota Fortuner 2.5 D-4D Auto en Ford Everest 3.0 TDCI 4×2 (as jy kan saamleef met sy bladvere agter). Chev het nie ’n outomatiese 4×2 TrailBlazer nie.

 

No comments yet.

No one have left a comment for this post yet!

Leave a comment

css.php