Rubriek: Kaapse verkeer(de)sirkels

Dis vakansie en vele Valies het reeds die pad gevat Visvoetland toe, daai plek met die Berg, die Stormers, snoek, see… en C-nommerplate.

Dus, in die naam van padveiligheid en in die gees van versoening, soos Madiba ons mooi geleer het, sou dit pligversuim wees om nie ’n raaiselagtige Kaapse gier met padgebruikers uit ander landsdele te deel nie.

toegee-sirkel

Beskou dit as ’n vierrigting-stop.

Dit het te doen met sirkels. En eilande. En die verskil tussen die twee.

Die probleem? Ons liewe Wes-Kaapse vrinne (symste dié wat die regsbaan-spoed tot 100 minus beperk en rygoed sonder linksflikkers ry) sukkel erg om tussen hulle te onderskei.

Sien, in die lang skadu van Tafelberg is enigiets met ’n ronding in die middel klaarblyklik ’n verkeerseiland (’n “roundabout” om dit beter te verduidelik); en nié ’n sirkel nie. En dis waar die moeilikheid inkom.

sirkel

’n Eiland se padteken

Ingevolge padregulasies behoort verkeersvloei om ’n sirkel op dieselfde beginsel as dié vir ’n vierrigting-stopstraat te werk. In plein taal, wie eerste die toegeelyn vir die sirkel kruis, rý eerste.

Dis iets wat Gautengers met hul pletora vierrigting-stopstrate baie goed verstaan. Maar nie in die Kaap nie. O nee, in dié ge-suide geld die regulasies van ’n verkeerseiland: Gee toe na regs. Altyd.

Die gevolg? ’n String karre wat mekaar om die sirkel volg, terwyl die verkeer by die ander ingange stilstaan. Frustrerend, en ’n praktyk wat die hele doel van ’n sirkel ongedaan maak.

Nog erger, sirkels en eilande (in wese ’n wýe sirkel met ’n beduidend groot eiland in die middel) het duidelik verskillende padtekens. Maar in die Kaap is dié tekens skynbaar so onsigbaar soos die Bulle in hul nuwe kamo-truie…

Nou ja, in ’n plek waar die stadsvaders ’n buslaan op ’n besige snelweg se vinnige baan goedgedink het, kan so ’n verkeerdelike gebruik sekerlik verwag word.

As jy jou egter dié krismistyd in die Weepee bevind, veral as jy ’n groot, blink wa met GP-registrasie en Bul-plakker ry, kyk maar liewer twee keer alvorens jy ’n Kaapse sirkel aandurf.

Andersins kan jy ’n toeter-kakefonie erger as die gebulk van die Seepunt-mishoring verwag. Of erger nog, ’n botsing. En dit sal rêrig onvanpas wees in hierdie tyd van versoening, vrede en welbehae.

Artikel deur Ferdi de Vos

 

No comments yet.

No one have left a comment for this post yet!

Leave a comment

css.php