Só lyk die Lamborghini Huracán

Dis tyd vir die suksesvolste Lamborghini ooit, die Gallardo, om af te tree. Verkope van dié giftige ryding het al in 2003 begin en altesaam 14 022 is gebou. Maar moenie treur nie: sy opvolger is in alle opsigte beter, al is sy bakontwerp miskien nie so suiwer soos die Gallardo s’n nie.

Lamborghini Huracán

Die nuweling is Huracán gedoop en jy’s reg as jy vermoed dit het iets met ’n orkaan te doen. Sy vervaardiger in Sant’Agata Bolognese, Italië sê egter dis ook die naam was van ’n dapper bul wat roem verwerf het in ’n Spaanse stiergeveg… in 1879. Dis so eksentriek as wat ’n mens van die Italianers kan verwag.

Die belangrikste feite omtrent die Lamborghini Huracán LP 610-4 is dat hy al vier wiele aandryf, dat die ou, geoutomatiseerde enkelkoppelaar-ratkas met ’n gladde sewegang-dubbelkoppelaar-outo vervang is en dat die enjin kragtiger is.

Lamborghini Huracán

Dis steeds ’n V10 van 5.2 liter sonder turbo of drukaanjaer, maar Lamborghini se ingenieurs het hom getoor sodat sy maksimum kragleweringsyfer verhoog is na 448 kW (voorheen 411 kW) teen ’n lekker hoë 8 250 o.p.m. en 560 Nm teen 6 500 o.p.m. Die nuwe enjin gebruik glo ’n kombinasie van direkte en poort-inspuiting vir ’n balans tussen sterk verrigting en meer aanvaarbare petrolverbruik, gemeet aan die Gallardo se V10.
Die onderstel, wat ’n kombinasie van aluminium en koolstofvesel is, help om die Huracán se massa laag te hou, maar teen 1 422 kg is sy droë gewig (dus sonder vloeistowwe soos olie en petrol) aansienlik meer as die McLaren 12C se 1301 kg.

Lamborghini Huracán

Moet egter nie vir ’n oomblik dink die nuwe bul gaan in die draad vassit nie: die vervaardiger sê sy topsnelheid is 325 km/h en die 0-100 km/h -versnellopie neem slegs 3.2 s. As jy jou voet plat hou, sal die Huracán 200 km/h haal in 9.9 s. Koolstofkeramiek-remme, wat nie so maklik oorverhit soos gewone staalremme nie, is standaardtoerusting. Dit beteken renbaanpret sonder om kort-kort stert-tussen-die-bene te moet kuipe toe om die remme te laat afkoel.

Lamborghini Huracán

Dis ook op die renbaan waar sy eienaar die CORSA-verstelling met ’n skakelaar op die stuur kan kies, soos in ’n Ferrari. Dit maak die enjin en ratkas aggressiewer en ons glo dit laat die agterwiele aansienlik meer krag kry as die voorwiele. Dit verander ook die aard van die glybeheer, maar tot watter mate is nog onbekend. Die ander verstellings is STRADA en SPORT, onderskeidelik vir brood-en-melk-ritte en sportiewe verrigting.

Lamborghini Huracán binne

Die eerste linkerstuur-weergawes sal in die herfs volgende jaar by hul gelukkige eienaars afgelewer word en regterstuur-lande (soos Suid-Afrika) sal hul eerste Gallardo’s ’n maand of ses later ontvang.

Artikel deur Justus Visagie

Lamborghini Huracán profiel

No comments yet.

No one have left a comment for this post yet!

Leave a comment

css.php