Subaru Forester 2.0X

Soos InRat in die Junie-uitgawe geskryf het, is die Forester XT ’n sportnutsvoertuig van vele talente, soos uitstekende hantering en padhouvermoeë, baie ruimte, die beste veiligheidseienskappe in sy klas en ’n hoë toerustingsvlak. Maar items soos ’n sondak en sleutellose toegang, sowel as daardie kragtige enjin en palwisselratkas dra ongelukkig by tot ’n woeste pryskaartjie. Die marteling van jou bankrekening eindig ook nie met die koop van so ’n motor nie, want hoewel die XT lig op brandstof is gemeet aan sy verrigting, sal ’n eienaar nie sommer beter as 10 liter/100km behaal in normale gebruik nie. Dit is dure ervaring wat hier praat, want ek het al vir ’n week lank met ’n XT gery…

Maar hoe gemaak as die Forester, met al sy veiligheidskenmerke, heeltydse vierwielaandrywing en lang lys speelgoed in die kajuit, nommerpas vir jou is, maar jou begroting strek nie tot op XT-vlak (R529 000) nie? Wel, Subaru het ’n antwoord: die 2.0 X.

Subaru Forester ateljeefoto

Teen R329 000 het hy amper ’n segment vir homself, want die meeste van sy teenstanders is slegs tweewiel-aangedrewe. Net Kia kan enigiets soortgelyks bied vir dieselfde soort geld, en die ander viertrekkers is heelwat duurder en wel ook kragtiger.

H511700092a modified
Dis nie duidelik hoekom die 2.0 X so bekostigbaar is nie, want die spesifikasieblad is steeds volgepak met items soos ’n tru-kamera, klimaat- en spoedbeheer, dieselfde klankstelsel as in die XT, ’n pragtige volkleur-ritrekenaar en sewe lugsakke. Die vernaamste sigbare verskille is die afwesigheid van ’n sondak, leerbekleedsel en allooiwiele by die X. Ja, die 2.0 X dra ysterskoene, maar hul stilering dra eintlik by tot die Forester se doelgerigte, nonsens-vrye houding.

Kyk onder sy dop en jy sien die enjin moet klaarkom sonder die XT se turbo, wat die maksimum-kraguitset van 177 kW na 110 kW verminder en ’n duik in die wringkrag maak: 198 Nm (in die X) is deesdae nie veel nie, veral nie in vergelyking met die XT se 350Nm nie. Om vir die kragvermindering te kompenseer is die palwisselratkas (CVT) ook by die deur uit, met ’n sesgang-handratkas in sy plek. Die handratkas lei daartoe dat die 2.0 X meer sportief voel as wat hy werklik is, want die bestuurder moet hom roei om die enjin aan die woel te hou. Gelukkig is daar genoeg krag beskikbaar teen hoë toere en daarom is redelike versnelling wel beskikbaar, en die ratskakeling is lig en akkuraat. ’n Blitspatrolliemotor is die 2.0 X beslis nie, maar die verrigting is aanvaarbaar en hy kan van 0 tot 100 km/h versnel in 10.6 sekondes, volgens Subaru. Op die snelweg kan die ratkierie meestal alleen gelaat word, want selfs in sesde rat is daar genoeg krag om ’n gemaklike snelheid te handhaaf.

Die grootste verrassing van die intree-Forester is egter sy brandstofverbruik. Subaru beweer die 2.0 X kan ’n gemiddelde verbruiksyfer van 7.2 liter/100km behaal, en my padtoets het gewys dat hy werklik naby aan daardie merk is. Met hoofsaaklik stadsverkeer op die spyskaart het die toetsmotor homself goed van sy taak gekwyt deur ’n merkwaardige 8.4 liter/100km op sy ritrekenaar te wys, en dit ten spyte daarvan dat ek gereeld anderkant 4 000 r/min gaan kuier het. Hierdie nuwegenerasie-bokser-enjin is duidelik doeltreffend.

Die 2.0 X het een kenmerk wat ’n mens nie eers in die XT sal vind nie: Stop-ry-tegnologie. Dit werk eenvoudig en onopvallend deur die enjin af te skakel wanneer die motor stilstaan, en dan weer aan te skakel sodra die koppelaar getrap word. Ek was eers skepties gewees oor die meriete van hierdie idee, maar die ritrekenaar het ’n funksie waarmee ’n mens die stelsel se werking kan monitor. Die resultaat was verbasend: oor ’n toetsperiode van ’n week het die stop-ry-funksie skynbaar 190 ml petrol bespaar deur nie by verkeersligte en in swaar verkeer te luier nie. Elke bietjie help…

Die meeste ander eienskappe van die XT is oorgedra na die X, maar met ’n groter klem op gerief. Die vering is effens sagter omdat die 2.0 X nie met die top weergawe se verrigting spog nie, en die bande het ’n hoër profiel. Dus is ritgehalte uitstekend, grondpaaie word met minagting afgeransel en spoedhobbels verdwyn eenvoudig. Geraas word goed gedemp, met net ’n ritseling vanaf die groot deurspieëls teen hoofweg-snelhede. As gevolg van hierdie gerief en sy stil kajuit is die Forester X ’n ooppad-vreter van formaat.

Hy is nie so vinnig soos sy kragtiger broers nie, en daar is ’n klompie luukshede wat weggelaat is, maar in geheel gesien is die Forester 2.0 X ’n baie aangename voertuig om mee saam te leef. Oorweeg die bestuurservaring, brandstofverbruik en waarde-proposisie daarmee saam en daar is baie redes om die basiese Forester aan te beveel bo sy stalmaats, sowel as sy mededingers.

Martin Pretorius @MartinInRat

 

Prys
R329 000

Enjin
2.0 liter, bokser-4

Ratkas
6-gang-handrat, vierwielaandrywing

Krag
110 kW @ 6200 r/min. en 198 Nm @ 4200 r/min.

Verrigting
0-100 km/h in 10.6 sek. en 190 km/h topsnelheid

Verbruik
7.2 ℓ/100 km en 168g CO2/km

Brandstoftenk
60 ℓ

Bagasiebak
505-1564 ℓ

Naverkope
3-jaar/100 000 km waarborg, 3-jaar/75 000 km onderhoudsplan, Versien elke 15 000 km

Oorweeg ook
Kia Sportage 2.0 4WD, Renault Koleos 2.5 4×4 Dynamique, VW Tiguan 1.4 TSI 4Motion.

 

1 Comment responses

  1. Avatar
    July 09, 2013

    Goeie prys, awesome kar!

Leave a comment

css.php