Toe tiep die Cruiser

Ek grinnik telkens as ek hoor of sien wat mense in die duine en oor hindernisse met hul veldryers aanvang. Totdat dit met my gebeur het, skryf Justus Visagie.
Photobucket

Photobucket
Geniet, jy dit? Vra Francois Rossouw* my entoesiasties terwyl ek die Land Cruiser 78 versigtig teen ’n spul jong rotse in ’n droë rivierloop laat uitbeur. Ek en hy ry ’n graad 5 -viertrekroete by die bekendstelling van die nuwe dubbelkajuit- Land Cruiser en opgekikkerde Land Cruiser 78 “Troopie”.
“Ja en nee,” antwoord ek. “Dis lekker wanneer ek die “lyn” deur die hindernis vind, sonder dat jy aan my beduie hoe om te ry, maar ek kry die arme voertuig jammer,” voeg ek by.

Oomblike later spring Margaret Pretorius** langs my in die Cruiser nadat Francois uitgeklim het om die hindernisse vorentoe te inspekteer. Omdat sy die bekendstelling organiseer, wil sy ook weet of dit sover ’n sukses is. Ek herhaal my treurmare en vertel haar dat InRat verlede jaar ongelukkig was wat toetsmotors betref. Dis nou wat stampe en skrape en so aan betref.
Terwyl ons praat, voel ek hoe die voertuig na regs oorleun terwyl ek stadig na links draai om ’n helling genaamd Die Muur te bestyg. My navigator is nêrens in sig nie. Ek dink aan die gids se woorde: “Dit gaan voel of hy wil omval, maar hy sal nie.

En toe val die Cruiser om.

Die rotsplaat waarop ek sekondes gelede gery het, is nou millimeters van my regterwang. Ek het verwag dat Margaret op my sou val, maar sy het haarself met een van haar regterhand se naels gestut. (Sy kry duidelik genoeg kalsium in.)
“Sit die enjin af!” skree sy en ek sit die enjin af. Binne sekondes het sy haarself op en uit die linkervenster gehys en staan ongedeërd langs die Cruiser. Ek het in die tagtigerjare na genoeg episodes van McGyver en The A-Team gekyk om te weet ek beter vinnig uit, voordat die voertuig ontplof.

Ek klouter uit soos ’n matroos uit ’n duikboot en wag dat iemand my wakker maak met ontbyt in die bed en gerusstellend sê dat dit ’n nare droom was. Tevergeefs.

Binne sekondes is die organiseerders, Toyota se mense en kollegas van ander media by. Derick Lategan** neem beheer van die recovery. Hy stuur ’n Toyota Prado op teen Die Muur sodat hy kan help om die 78 van die linkerkant met sleepstroppe regop te trek. Omdat die Prado so hoog staan (op Die Muur se kruin) trek hy dus nie net sywaarts nie, maar ook boontoe. Daarom moet daar van die ander kant gestoot word om die gestrande Cruiser op sy wiele te kry. Derick en sy span sit ’n lugdomkrag waar daar ’n bietjie plek is onder die 78 se regterflank.

Nou’s dit tyd vir spanwerk. Terwyl ’n Cruiser 79 -bakkie se uitlaatpyp die lugdomkrag opplaas, trek die Prado doer bo versigtig terwyl omtrent agt van ons help om die gevalle 78 regop te stoot. Nie lank daarna nie staan ta op al vier wiele. Toe wag ons ’n rukkie, draai die sleutel… en hy loop. Maar daar’s nog te veel olie in die silinders en die enjin wil teen maksimum toere loop! Om hom dan te laat vrek, moet die ratkas in ’n lae rat wees en die bestuurder die koppelaar los. Nou word die Cruiser in vierde rat gesit en daarna deur mannekrag vorentoe en agtertoe gewieg sodat die olie terug na die oliebak syfer.

Weer draai die aansitter en die enjin loop nou rustig. Ons voltooi die stukkie van die roete wat oor is en kies koers na ons middagete-plek sowat 45 km verder en toe nog 75 km na Prins Albert waar ons oornag. Omdat die regterdeur se vensterraam effens gebuig het, kan die (elektriese) venster nie toe nie. Maar die lugversorger blaas lekker koel sodat die somer-Karoohitte wat inwaai, nie juis pla nie. Voor middagete kry Derick ’n vierpondhamer in die hande en slaan die raam met vier houe reguit sodat die venster kan toeskuif. Die laaste bietjies olie in die silinders laat die Cruiser soos ’n stoomtrein rook, totdat dit verbrand het. Daarna ry ons die asemrowende Swartbergpas – ongetwyfeld die mooiste in Suid-Afrika – en kom laatmiddag voorspoedig op Prins Albert aan.

Photobucket

Photobucket

Photobucket

 

 

Photobucket

 

Photobucket
Ek het heelwat uit dié ervaring geleer het en sommige kennis is herbevestig:

1. Vra jouself af: “Is dit noodsaaklik dat ek hier ry? Is daar dalk ’n meer gepaste ompad?” Vra jouself dié vraag verál as daar water betrokke is.
2. Die bestuurder moet seker maak hy en sy navigator – wat buite die voertuig beduie waar om te ry – verstaan mekaar. As hy nie doodseker is nie, moet hy stilhou en seker máák.
3. Die navigator moet besef sy verantwoordelikheid vir die voertuig en insittendes se veiligheid is ewe groot of groter as die bestuurder s’n. Hy moet ook nie die bestuurder oorskat nie!
4. Arms altyd binne die voertuig. Behalwe as jy van die Oos-Rand kom of een-arm-push-ups met 2.3 ton op jou rug kan doen.
5. As die voertuig op sy kant of dak lê, moet die enjin dadelik afgeskakel word sodat die suiers nie ongesmeer of “droog” beweeg nie.
6. Die redding of recovery van die voertuig moet stadig en noukeurig beplan word en een persoon moet leiding neem en gehoorsaam word. Probeer om die voertuig terug te kry waar hy was omdat dit bekend is.
7. Gebruik die regte sleeppunte of recovery points aan die onderstel – nie die sleephaak waarmee waentjies getrek word nie. Raadpleeg die voertuig se handleiding hiervoor.
8. Baie belangrik: Maak seker niemand sal beseer word as ’n tou, sleepstrop of kabel breek nie, of as die voertuig weer op sy bande land of dalk terugval nie.
9. Sorg dat al die vloeistowwe weer is waar hulle moet wees en dat daar nie massas olie in die silinders bo-op die suiers is nie. Eers dan kan jy die enjin aanskakel. Wieg die voertuig wanneer hy regop is sodat die olie terug loop na die oliebak.
10. Die meeste soortgelyke 4×4-insidente veroorsaak nie veel skade aan mens of ryding nie. Negentig persent daarvan gebeur in die herwinning van die voertuig. Wys iemand aan om as “veiligheidsbeampte” of observeerder op te tree. Dit kan ’n man, vrou, kind of onkundige wees.

* Francois Rossouw het sy loopbaan as dieselwerktuigkundige begin en is een van die mees ervare en berese 4×4-ouens in die land. Hy lei die RSG-4×4-klub se toere regoor Afrika.

** Margaret Pretorius is die sjarmante bestuurder van African Outdoor Group (AOG). Derick Lategan is die eienaar. Sy suksesvolle onderneming lewer dienste aan motorvervaardigers en -invoerders.

Teen druktyd het die Troopie ’n verdere 2 000 km afgelê.

 

2 Comment responses

  1. Avatar
    July 09, 2013

    Ek wil nie weet wat die skade was nie! Lyk soos vetpret…

  2. Avatar
    October 08, 2014

    Wys jou. Kennis en ervaring is nodig, maar net so konsentrasie en toepassing.
    Maar so leer ek as onervare ook. Dankie dis great.

Leave a comment

css.php