Toyota Corolla 1.8 Exclusive

Sedert ek kan onthou, is die Toyota Corolla die “veilige” keuse. Miskien ’n betroubare aftreekar of gesinsmotor met genoeg pakplek. Jy het nie ’n Corolla gekoop omdat sy hantering besonder sportief is of omdat hy iets vir die oog is nie.
Toyota_Corolla_1800cc
Maar dit alles verander nou vinnig. Ons toetskar, ’n Exclusive (1,8-liter-handrat), het my geloof in hierdie gesinsedan herstel.

Terwyl die vorige twee of drie Corollas sieldodend was om te aanskou, lyk die nuweling selfs dinamieser as sy premiumklas- nefies uit die Lexus-stal. Daar is nou houding en doelgerigtheid in die nuwe Corolla se postuur. As ek die Corolla se snoet en stert met dié van die veel duurder Lexus ES250 moet vergelyk, verkies ek die Corolla se aggressiewer en herkenbaarder ontwerpstyl. Die deurhandvatsels en vyfhoekige stertligte lyk interessant en vars. Die instrumentpaneel het ’n raakskerm en ’n magdom knoppies en funksies. Dit kan jou aan die begin dronkslaan, maar ’n mens kry dit gou onder die knie. Die klankstelsel (wat DVD’s op die raakskerm kan speel) klink bogemiddeld goed, en die stil kajuit dra daartoe by.

Die afstand tussen die voor- en agteras is met 100 mm gerek, wat dit moontlik gemaak het om die wiele verder na die hoeke te skuif vir beter dinamika. Sy lyf is ligter en stewiger as tevore. Ek kon dit voel in die draaie van die Akkedisbergpas, tussen Stanford en Napier in die Wes-Kaap. Dié Corolla trap vas soos ’n jagluiperd met ’n plomp rooibokkie in sy visier. Die stuurgevoel is te lig na my sin, maar dis nie ’n sonde nie. Vir die 1,8-liter-petrolenjin (103 kW en 173 Nm) was dit heeltyd speeltyd; sonder dat hy hom aan petrol vergryp. Die ritrekenaar het gewys my beste verbruik was 7,8 liter/100 km, terwyl my gemiddelde syfer ’n aanvaarbare 8,1 liter per 100 km was, ondanks die feit dat ek het hom soms gelooi het.

Vastrap- en stabiliteitsbeheer, sweepslagwerende voorsitplekke en sewe lugsakke is standaardtoerusting in die 1.8 Exclusive. En ja, ruimte is een van die eienskappe waarvoor die Corolla bekend is. Ek het ’n passasier van 1,96 m agter laat inskuif. Hoewel die kopruimte vir hom effens min was, was hy gelukkig met die hoeveelheid beenspasie vir sy “bonatuurlik” lange femurs en tibia. Vir ons meer gewone mense is daar meters plek.

Die Corolla het van sy aftreemotorbeeld ontslae geraak. Gee hom gerus ’n kans voordat jy ’n veldwa koop waarmee jy net een keer ’n jaar op ’n 4×4-rit gaan. – Ané Theron

PRYS R281 100
ENJIN 1,8 liter; vier silinders (in gelid); 103 kW en 173 Nm
RATKAS Sesgang-handratkas; voorwielaandrywing
VERBRUIK 7,0 liter/100 km
OORWEEG OOK Honda Civic Sedan 1.8 Elegance

No comments yet.

No one have left a comment for this post yet!

Leave a comment

css.php