Volkswagen Amarok Dubbelkajuit 2.0 BiTDi 4Motion Auto Highline

’n Vierwielaangedrewe dubbelkajuitbakkie met ’n outomatiese ratkas? Sonder ’n ekstra, kort ratkierie? Dit voel vir ’n tradisionalis soos ’n Jack Russell sonder ’n bal, rugby kyk sonder ’n braai of ’n tent sonder ’n koelboks. Iets skort.

Totdat jy in die Volkswagen Amarok 2.0 BiTDi 4Motion Auto Highline se hoë kajuit inklim. Dis ’n mondvol, maar hierdie Volla verdien elke naam, afkorting en byvoeglike naamwoord wat aan hom gekoppel word.

Volkswagen Amarok

Volkswagen se “4Motion” staan vir permanente vierwielaandrywing en in hierdie geval is dit aan die ander kant van ’n outomatiese ratkas met agt gange. 4Motion is ’n “intelligente” aandrywingstelsel wat krag heeltyd tussen die wiele versprei en wat meer krag stuur na waar dit nodig is. Die outokas skakel naatloos oor, wat beteken dat jy nooit in die verkeerde rat is nie. Saam maak hierdie twee tegniese kenmerke van die nuwe Amarok ’n heerlike anderpad-voertuig.

Die bakkie het ’n enjin van “net” twee liter, maar sy kraglewering is ’n ruk gelede verhoog tot by 132 kW en die wringkrag tot 420 Nm. Ongelowige Thomasse het voor sy bekendstelling die wenkbroue gelig oor dié “klein enjin”. Maar hulle was verniet bevrees. Die Amarok is sterk genoeg vir bykans alle terreine en dit is te danke aan sy twee turbo-aanjaers.

Volkswagen Amarok

Hy is op ’n rit na Ponta Malongane en Ponta d’Ouro in Mosambiek getoets. Tot by die grens by Kosibaai het hy beindruk met sy rygerief en trekkrag. Die bakkie was taamlik swaar gelaai, maar het glad en maklik enige snelheid behou. Hy het ook moeiteloos teruggeskop na laer ratte en die vele suikerrietvragmotors en taxi’s naby Pongola gewillig verbygesteek. ’n Mens het nie minder verwag van hierdie Duitse wa nie. Maar toe ons eers anderkant die grens die sandpaaie slaan, het my oë vir die eerste keer waarlik oopgegaan.

Jy hoef nooit jou beker/glas/blikkie/bottel neer te sit nie. Met een hand stuur hy heel ligvoets terwyl sy unieke aandrywingstelsel by die oppervlak en die helling aanpas. Daar is min huiwering voordat hy vastrapplek vind wanneer die sand skielik dieper word.

Die Amarok sal alle angstigheid oor onvoorspelbare terreine en sanderige paaie laat verdwyn, ook by onervare bestuurders. Anders as sy handrat-eweknie het dié outo-weergawe nie ’n laestrekratkas nie. Eerste- en tweederat vervul dié funksie. Daar is ook hellingbeheer as jy waarlik steil afdraendes raakloop.

Die pad langs die see af tussen Malongane en Ponta d’Ouro is sowat sewe kilometer lank en is meer van ’n wipwaentjierit tussen die duine deur as die “hoofpad” van die grens tot by Malongane. Ons moes eers wag dat ’n Japanse 4×4 uitgegrawe en -gestoot word voordat ons Ponta d’Ouro kon binnery. Die Volkswagen is egter glad en gemaklik oor dieselfde terrein. Jy moet net effens momentum behou en hy doen die res.

Amarok binneruim

Dit gebeur alles terwyl jy in ’n funksionele maar tog ook luukse kajuit sit. Daar is lugversorging vir Afrika-sissies, ’n goeie klankstelsel en ’n opsionele afstand-alarm vir wanneer jy parkeer. Nuttig, maar tog ook R5 450 ekstra. Leerbekleedsel kos ’n verdere R6 750.

Terloops, begroot wel vir ’n kappie. Die groot laaibak agter het net haakplekke aan die binnekant en dis hengse moeite om jou bagasie vasgemaak of toegemaak te kry.

Die Amarok met die lang naam en die outomatiese ratkas is vir mense wat iets anders soek wat handelsmerk en (mooi) stilering betref. Hulle kry as bonus ’n gesofistikeerde, effektiewe 4×4 wat die dinkwerk vir jou doen.  – Dirk Jordaan

Prys
R488 400 (sonder ekstras)

Enjin
1 968 cc met vier silinders en twee turboaanjaers; diesel

Ratkas
Outomaties met agt gange; vierwielaandrywing

Krag
132 kW @ 5800 r/min. en 420 Nm @ 1750 r/min.

Verrigting
0-100 km/h in 10.9 sek. en 179 km/h topsnelheid

Verbruik
8.3 ℓ/100 km en 219 g koolsuurgas per km (gemiddeld, volgens VW)

Brandstoftenk
80 ℓ

Penshoogte
244 mm (gemeet tussen die voor- en agteras) en 192 mm (gemeet onder vooras)

Laaibak
252 m2 groot en 1.55 m lank

Naverkope
Gewaarborg vir drie jaar of 100 000 km; diensplan vir vyf jaar of 90 000 km. Versien elke 15 000 km

Oorweeg ook
Ford Ranger 3.2 XLT 4×4 6AT Diesel, Nissan Navara 2.5dCi 4×4 LE D/C (AT)

1 Comment responses

  1. Avatar
    January 14, 2014

    Dit is nou ‘n YSTER bakkie!

Leave a comment

css.php